Kom vlieg…

Ek het onlangs ‘n CD omslag gedoen vir ‘n kinder CD van Helena Conradie, en ek is baie trots en opgewonde om deel te wees van hierdie wonderlike projek. Ek het ‘n pragtige kunswerk van Hanien Conradie gehad om mee te werk en dit was sommer net ‘n lekker spelery!

Kom vlieg… bestaan uit 20 storie-gediggies en liedjies met kraakvars, nuutgeskepte toonsettings waarvan die wysies maklik volksbesit kan word. Helena het  die meeste van die storie-gediggies en wysies self geskep, terwyl ‘n paar gedigte van Philip de Vos, van J.M. Gilfillan en ‘n teks van Hennie Aucamp ook op Kom vlieg… verskyn.

Die gebruik van ‘n tjello, klavier en ander instrumente vleg die stories saam in ‘n wonder-verbeeldingswêreld, wat die kinderluisteraar sal help om musikaal te ontwikkel. Selfs ouma of ma sal nie verveeld raak nie. Tussen die stories, liedjies en rympies deur loop daar ‘n goue draad van eenvoudige lewenswaarhede.

Die musiek is geskep deur die kreatiewe musikant, Francois le Roux (Die Ha!man) en die liedjies word gesing deur die talentvolle, jong sangeres, Karli Heine.

Wat ‘n vars aanslag, so anders as die ander goed op die mark beskikbaar vir ons kinders. Julle kan dit bestel by C- Produksies: pieter@cadutoit-wp.co.za / 021 976 3775
Gaan kyk ook op Helena se Facebook blad vir meer inligting.

* Helena Conradie is bekend as stemkunstenaar wat onder meer CD’s saamgestel het met gedigte van Boerneef, Sheila Cussons, TT Cloete en George Weideman. Met haar vorige kinder-CD, Skeffie Beffel, het sy veral die nostalgie en verlange tussen kleinkinders en hulle ouma wat in verskillende lande woon, vasgevang. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *